WWJD DAGSTUKKIES

What Would Jesus Do

My liewe Vriend,
Vandag lees jy waarskynlik, nee, BESLIS die beste nuus wat jy ooit gehoor het!
JY KÁN VIR EWIG LEWE!
En wat kos dit? Alles het mos deesdae 'n prys.
Wel, hierdie een is gratis. GRATIS! Absoluut gratis!!!
Nou vra jy my waar die vangplek dan is.
Daar is GEEN vangplek nie! Maar daar is tóg 'n opoffering.
Nuuskierig?
Nou, lees dan verder!

Baie jare gelede het God mense geskape. Hy het hulle perfek gemaak, sonder enige sonde en hulle het in volkome harmonie gelewe met God, mekaar en die natuur. Maar God het nie robotte gemaak nie: Hy het vir hulle die vermoë gegee om sélf te dink en keuses te maak, selfs tussen goed en kwaad.
Hulle het die kwaad verkies bo 'n lewe saam met God, die God wat hulle lewe gegee het.
God se straf vir hierdie daad was die doodstraf.

Ek en jy is afstammelinge van hierdie eerste mense wat God gemaak het, en tot vandag toe kan ons maar net nie wegbreek van die verskriklike gewoonte om die kwaad bo God te verkies nie. Daar gaan nie 'n enkele dag om dat ons nie ten minste een van God se wette oortree nie
En ons is gedoem tot die doodstraf!
Of is ons?

God het besef dat dit absoluut onmoontlik is vir ons mense om weg te breek van die kwaad af, toe stuur Hy sy enigste Seun, Jesus, om vir 33 jaar tussen ons te woon. Dit het 2000 jaar gelede gebeur. Hy was die enigste mens wat ooit gelewe het wat nooit toegegee het aan die kwaad nie. Maar die mense het Hom gehaat. So groot was hulle haat dat hulle Hom aan planke vasgespyker het en Hom daar in die versengende hitte van die ongenadige woestynson laat hang het totdat Hy dood was.

'n Afgryslike verhaal, sê jy?
Ja, moontlik, maar God het dit Sélf so beplan.
Sien, Jesus het met hierdie handeling ál die blaam op Homself geneem vir die sondes wat ek en jy doen. Hy het die volle prys betaal van die volle straf van God.

Nou wat het dit dan met jou te doen?
Jesus lewe! Hy is nie dood nie!
Drie dae nadat hulle Hom doodgemaak het, het Hy weer lewendig geword. Hiermee het Hy die weg gebaan vir ek en jy om ook vir ewig te lewe.
Beteken dit dan dat jy outomaties die ewige lewe kry?
Nee! En hier is waar die opoffering inkom.

In die eerste plek moet jy besef dat daar net een God is, die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, die Skepper van die hemel en die aarde. Hy is ook die outeur van die gewildste boek wat ooit geskryf is: die Bybel, waarin die geheim van die ewige lewe opgesluit is.

Tweedens moet jy besef dat jy nie volgens God se wette leef nie, en maak nie saak hóé hard jy probeer om goed te lewe nie, jy bly maar sondig teen Hom. Sy wet sê dat jy Hom met jou hele hart moet liefhê, en dat jy ander mense ook moet liefhê, so lief as wat jy vir jouself is, ja, selfs jou grootste vyand moet jy liefhê. Dit mag na 'n eenvoudige wet lyk, maar glo my: dit is absoluut onmoontlik om elke dag daarby te hou. God se straf vir hierdie ongehoorsaamheid is die dood. Maar nog meër: dit beteken ook die ewige straf in die Hel!

Derdens moet jy met jou hele hart glo dat God sy enigste Seun, Jesus, gestuur het om die volle, verskriklike prys vir jou te betaal. Hy was in jou plek gestraf, en dit beteken dan dat jy nooit weer gestraf hoef te word omdat jy God se wette verontagsaam het nie. Nog meër: dit beteken dat jy die ewige lewe het!
Om hier op aarde ste sterwe is slegs die begin van 'n splinternuwe lewe met 'n splinternuwe liggaam wat nooit, ooit oud sal word nie, of siek nie en wat nie pyn sal voel nie.

Is dit nou nie die wonderlikste nuus wat jy ooit gehoor het nie?

Om meer uit te vind oor hierdie wonderlike nuus: kontak my by 0839009761

Johannes 3:16
God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Romeine 3:23

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Romeine 6:23

Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

{youtube}H3KDzdhNWvE{/youtube}

Opkomende Gebeure

WWJD Dagstukkies

Copyright © 2015/2016. All Rights Reserved.